WET OP PLANTTELERSREGTE, 1976 
ACT No. 15 of 1976

[GOEDGEKEUR OP 15 MAART 1976] [DATUM VAN INWERKINGTREDING: 1 NOVEMBER 1977]

(Engelse teks deur die Staatspresident geteken)

soos gewysig by

Wysigingswet op Planttelersregte 5 van 1980
Wysigingswet op Planttelersregte 14 van 1981
Wysigingswet op Planttelersregte 38 van 1983
Wet op die Oordrag van Bevoegdhede en Pligte van die Staatspresident 97 van 1986
Wysigingswet op Planttelersregte 15 van 1996
Wet op Afskaffing van Beperkings op Howe se Jurisdiksie 88 van 1996

WET

Om voorsiening te maak vir 'n stelsel waarkragtens planttelersregte betreffende variëteite van sekere soorte plante toegestaan en geregistreer kan word; vir die vereistes waaraan voldoen moet vir die toestaan van sodanige regte; vir die beskerming van sodanige regte en die uitreiking van lisensies ten opsigte van die uitoefening daarvan; en om voorsiening te maak vir bykomstige aangeleenthede.

[Lang titel vervang by a. 30 van Wet 15 van 1996.]

1. Woordomskrywing. --

In hierdie Wet, tensy uit die samehang anders blyk, beteken --

"adverteer" om enige skriftelike, geïllustreerde, visuele of ander beskrywende stof, mondelinge verklaring, mededeling, voorstelling of verwysing onder lede van die publiek te versprei of op enige wyse hoegenaamd onder hulle aandag te bring met die doel om die verkoop van enige plante of enige voortplantingsmateriaal van 'n variëteit bedoel in artikel 2 te bevorder of die gebruik daarvan aan te moedig of die aandag te vestig op die aard, eienskappe, voordele of gebruike daarvan of op die wyse of voorwaardes waarop dit gekoop of andersins verkry kan word;

[Omskrywing van "adverteer" vervang by a. 1 (a) van Wet 15 van 1996.]

"agent" 'n persoon, in die Republiek woonagtig, wat behoorlik deur 'n applikant, teler of houer daartoe gemagtig is om namens hom op te tree in verband met enige aangeleentheid betreffende hierdie Wet, wat vir dié doel op die voorgeskrewe wyse deur die registrateur erken word indien hy aan die voorgeskrewe vereistes voldoen en ten opsigte van wie die registrateur nie op die voorgeskrewe wyse in kennis gestel is dat bedoelde magtiging beëindig is nie;

[Omskrywing van "agent" vervang by a. 1 (a) van Wet 5 van 1980.]

"applikant" 'n persoon in artikel 6 bedoel wat ingevolge artikel 7 om 'n planttelersreg aansoek doen;

[Omskrywing van "applikant" vervang by a. 1 (b) van Wet 5 van 1980.]

"beampte" 'n beampte of 'n werknemer soos omskryf in artikel 1 van die Staatsdienswet, 1957 (Wet 54 van 1957);

[Omskrywing van "beampte" vervang by a. 1 (a) van Wet 38 van 1983.]

"benaming", met betrekking tot 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n planttelersreg toegestaan is, die generiese naam vir die variëteit;

[Omskrywing van "benaming" vervang by a. 1 (b) van Wet 15 van 1996.]

"beskermde variëteit" 'n variëteit van 'n plant ten opsigte waarvan 'n planttelersreg toegestaan is;

[Omskrywing van "beskermde variëteit" ingevoeg by a. 1 (c) van Wet 15 van 1996.]

"departement" die Departement van Landbou;

[Omskrywing van "departement" vervang by a. 1 (a) van Wet 14 van 1981 en by a. 1 (b) van Wet 38 van 1983.]

"hierdie Wet" ook die regulasies;

"houer", met betrekking tot 'n planttelersreg, iemand aan wie so 'n reg ingevolge artikel 20 toegestaan is, of wat, volgens 'n inskrywing in die register, die eienaar van so 'n reg is;

"kenmerkende eienskappe" die kenmerkende eienskappe van 'n variëteit van 'n plant soos uitgedruk by wyse van 'n toets of proef of enige ander erkende wyse van bepaling van die eienskappe van 'n variëteit van 'n plant;

[Omskrywing van "kenmerkende eienskappe" ingevoeg by a. 1 (d) van Wet 15 van 1996.]

"konvensieland" 'n land, met inbegrip van 'n kolonie, protektoraat of gebied onder die gesag of susereiniteit van 'n ander land en 'n gebied waaroor 'n mandaat of voogdyskap uitgeoefen word, wat die Internasionale Konvensie vir die Beskerming van Nuwe Variëteite van Plante onderteken en bekragtig, aanvaar of goedgekeur het of daartoe toegetree het;

[Omskrywing van "konvensieland" vervang by a. 1 (c) van Wet 5 van 1980.]

"merk" 'n merk soos omskryf in artikel 2 van die Wet op Handelsmerke, 1963 (Wet 62 van 1963);

"Minister" die Minister van Landbou;

[Omskrywing van "Minister" vervang by a. 1 (b) van Wet 14 van 1981 en by a. 1 (c) van Wet 38 van 1983.]

"nuwe variëteit" ......

[Omskrywing van "nuwe variëteit" geskrap by a. 1 (e) van Wet 15 van 1996.]

"ooreenkomsland" 'n land, met inbegrip van 'n kolonie, protektoraat of gebied onder die geslag of susereiniteit van 'n ander land en 'n gebied waaroor 'n mandaat of voogdyskap uitgeoefen word, wat die Staatspresident by proklamasie in die Staatskoerant as 'n ooreenkomsland verklaar met die oog op die nakoming van 'n bilaterale ooreenkoms betreffende planttelersregte tussen die Republiek en sodanige land;

"plant" ook enige deel van 'n plant;

[Omskrywing van "plant" vervang by a. 1 (f) van Wet 15 van 1996.]

"planttelersreg" 'n planttelersreg ingevolge artikel 20 toegestaan;

"raad" die in artikel 42 bedoelde raad;

"register" die register ingevolge artikel 4 gehou;

"registrateur" die beampte ingevolge artikel 3 as Registrateur van Planttelersregte aangewys;

[Omskrywing van "registrateur" vervang by a. 1 (d) van Wet 38 van 1983.]

"regulasie" 'n regulasie wat kragtens hierdie Wet uitgevaardig is;

"soort plant" alle verwante genera, spesies of subspesies van 'n plant wat onder dieselfde algemene naam bekend is;

"teler" met betrekking tot 'n variëteit bedoel in artikel 2-

(a) die persoon wat die variëteit geteel, of dit ontdek en ontwikkel het;

(b) die werkgewer van die persoon in paragraaf (a) bedoel, indien daardie persoon 'n werknemer is wie se pligte sodanig is dat die variëteit in die verrigting van daardie pligte

geteel, of ontdek en ontwikkel is; of

(c) die regsopvolger van die persoon in paragraaf (a) of die werkgewer in paragraaf (b) bedoel;

[Omskrywing van "teler" vervang by a. 1 (g) van Wet 15 van 1996.]

"variëteit" 'n plantgroepering binne 'n enkele botaniese takson van die laagste bekende klassifikasie, welke groepering, ongeag daarvan of die voorwaardes vir die toestaan van 'n planttelersreg ten volle nagekom is of nie-

(a) omskryf kan word deur die uitdrukking van die eienskappe veroorsaak deur 'n gegewe genotipe of kombinasie van genotipes;

(b) van enige ander plantgroepering onderskei kan word deur die uitdrukking van ten minste een van genoemde eienskappe; en

(c) as 'n eenheid beskou kan word met betrekking tot die geskiktheid daarvan om onveranderd voortgeplant te word;

[Omskrywing van "variëteit" vervang by a. 1 (h) van Wet 15 van 1996.]

"verkoop" ook ooreenkom om te verkoop, of vir verkoop aanbied, adverteer, hou, uitstal, versend, stuur, vervoer of lewer, of verruil of op enige wyse vir 'n teenprestasie aan iemand van die hand sit; en het "verkoop", wanneer dit as 'n naamwoord gebruik word, 'n ooreenstemmende betekenis;

"voorgeskryf" by regulasie voorgeskryf en het

"voorgeskrewe" 'n ooreenstemmende betekenis;

"voortplantingsmateriaal" enige materiaal van 'n plant wat vir die voortplanting van 'n plant gebruik kan word.

[Omskrywing van "voortplantingsmateriaal" vervang by a. 1 (d) van Wet 5 van 1980 en by a. 1 (i) van Wet 15 van 1996.]

2. Toepassing van Wet. --

(1) Hierdie Wet is van toepassing met betrekking tot elke variëteit van 'n voorgeskrewe soort plant indien dit nuut, onderskeibaar, uniform en stabiel is.

(2) 'n Variëteit bedoel in subartikel (1) word geag-

(a) nuut te wees indien voortplantingsmateriaal of geoeste materiaal daarvan-

(i) in die Republiek, nie meer as een jaar nie; en

(ii) in 'n konvensieland of ooreenkomsland, in die geval van-

(aa) variëteite van rankplante en bome, nie meer as ses jaar nie; of

(bb) ander variëteite, nie meer as vier jaar nie,

voor die datum van indiening van die aansoek om 'n planttelersreg, nie deur die teler, of met die teler se toestemming, verkoop of andersins van die hand gesit is vir doeleindes van die benutting daarvan nie;

(b) onderskeibaar te wees indien dit op die datum van indiening van die aansoek om 'n planttelersreg duidelik te onderskei is van 'n ander variëteit van dieselfde soort plant

waarvan die bestaan op daardie datum 'n saak van algemene kennis is;

(c) uniform te wees indien dit, behoudens die afwyking wat van die besondere kenmerke van die voortplanting daarvan verwag kan word, genoegsaam uniform is wat die kenmerkende eienskappe van die betrokke variëteit betref;

(d) stabiel te wees indien die kenmerkende eienskappe daarvan onveranderd bly na herhaalde voortplanting of, in die geval van 'n bepaalde voortplantingsiklus, aan die einde van elke sodanige siklus.

(3) Indien die toepassing van hierdie Wet uitgebrei word na 'n soort plant waarop hierdie Wet, of 'n wet daarby herroep, nie voorheen van toepassing was nie, kan die registrateur by die toepassing van subartikel (2) (a) 'n variëteit van so 'n soort plant wat ten tyde van die uitbreiding bestaan, ag nuut te wees ondanks die feit dat voortplantingsmateriaal of geoeste materiaal daarvan voor die tydperke bedoel in daardie subartikel verkoop of van die hand gesit is.

(4) Indien 'n aansoek, in enige land, om die toestaan van 'n planttelersreg ten aansien van, of om die aanteken in die amptelike register van variëteite van, 'n variëteit inderdaad aanleiding gee tot die toestaan van 'n planttelersreg ten aansien van, of die aanteken in die amptelike register van, daardie variëteit in die betrokke land, word die bestaan van daardie variëteit vir die doeleindes van subartikel (2) (b), vanaf die datum van die aansoek, ook geag 'n saak van algemene kennis te gewees het.

[A. 2 gewysig by a. 2 van Wet 5 van 1980 en vervang by a. 2 van Wet 15 van 1996.]

3. Aanwysing van registrateur. --

(1) Die Minister wys 'n beampte in die departement aan as Registrateur van Planttelersregte, wat die gesag is aan wie die beskerming van variëteite opgedra word en wat die bevoegdhede uitoefen en die pligte verrig wat kragtens hierdie Wet aan die registrateur verleen of opgedra word.

[Sub-a. (1) vervang by a. 3 van Wet 15 van 1996.]

(2) Die registrateur oefen sy of haar bevoegdhede uit en verrig sy of haar pligte behoudens enige opdragte deur die Minister uitgereik.

[Sub-a. (2) vervang by a. 3 van Wet 15 van 1996.]

(3) (a) Die registrateur kan 'n beampte of, met die goedkeuring van die Minister 'n persoon wat nie 'n beampte is nie, magtig om 'n bevoegdheid of plig van die registrateur uit te oefen of te verrig.

(b) 'n Beslissing of opdrag gegee deur so 'n beampte of so 'n persoon kan deur die Registrateur ingetrek of gewysig word, en word, totdat dit aldus ingetrek of gewysig is, behalwe by die toepassing van hierdie paragraaf, geag deur die registrateur gegee te gewees het.

[Sub-a. (3) vervang by a. 3 van Wet 15 van 1996.]

(4) Die beampte aangewys as registrateur kragtens artikel 3 (1) van die Wet op Planttelersregte, 1964 (Wet 22 van 1964), word geag as Registrateur van Planttelersregte kragtens hierdie artikel aangewys te gewees het.

4. Register van planttelersregte. --

(1) Die registrateur hou 'n register waarin die voorgeskrewe besonderhede ten opsigte van plantterlersregte ingevolge hierdie Wet toegestaan, aangeteken word.

[Sub-a. (1) vervang by a. 3 van Wet 5 van 1980.]

(2) Die register is by betaling van die voorgeskrewe gelde by die kantoor van die registrateur gedurende kantoorure ter insae beskikbaar.

(3) Die registrateur verstrek op versoek van enigiemand en by betaling van die voorgeskrewe gelde 'n afskrif van enige besonderhede in die register of 'n sertifikaat ten opsigte daarvan.

4) Die register ingevolge artikel 4 van die Wet op Planttelersregte, 1964 (Wet 22 van 1964), gehou, word ingelyf by en maak deel uit van die register wat ingevolge hierdie artikel gehou moet word, en 'n stuk verstrek aan die registrateur in daardie Wet ingevolge 'n bepaling daarvan, word geag ingevolge die ooreenstemmende bepaling van hierdie Wet aan die registrateur verstrek te gewees het.

5. Register dien as bewys. --

(1) Die register dien as prima facie -bewys van alle aangeleenthede wat volgens hierdie Wet daarin aangeteken moet of mag word.

(2) 'n Sertifikaat van die registrateur ten effekte dat 'n inskrywing in die register gemaak is of nie gemaak is nie of dat enigiets anders wat ingevolge hierdie Wet gedoen mag word, gedoen is of nie gedoen is nie, is prima facie -bewys van die aangeleenthede in daardie sertifikaat vermeld.

(3) 'n Afskrif van 'n inskrywing in die register of 'n uittreksel uit die register, deur die registrateur gesertifiseer, word sonder verdere bewys of voorlegging van die register in 'n hof as getuienis toegelaat.

5A. Aangaan van sekere ooreenkomste deur registrateur. --

Die registrateur kan, met die goedkeuring van die Minister, verleen met die instemming van die Minister van Buitelandse Sake en Inligting en die Minister van Finansies, 'n ooreenkoms met die toepaslike gesag in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland aangaan ingevolge waarvan die registrateur-

(a) die resultate van toetse en proewe wat deur so 'n gesag onderneem is met 'n variëteit bedoel in artikel 19 (2) van hierdie Wet, van dié gesag kan verkry;

(b) die resultate van toetse en proewe-

(i) wat hy ingevolge artikel 19 (2) (a) van hierdie Wet onderneem het met 'n variëteit in daardie artikel bedoel; of

(ii) wat hy onderneem het met 'n variëteit ten opsigte waarvan die betrokke gesag voortplantingsmateriaal vir daardie doel aan hom voorgelê het,

aan die betrokke gesag kan voorsien indien 'n aansoek om beskerming van die variëteit ooreenkomstig die wette wat in die betrokke ander land van krag is, in daardie land gedoen is; en

(c) voortplantingsmateriaal van 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n aansoek om 'n planttelersreg by hom gedoen is, aan die betrokke gesag kan voorlê ten einde die nodige toetse en proewe daarmee te laat onderneem en die resultate daarvan aan hom te voorsien,

teen betaling van die gelde in die ooreenkoms vermeld.

[A. 5A ingevoeg by a. 2 van Wet 38 van 1983.]

6. Persone wat om planttelersreg aansoek mag doen. --

(1) 'n Aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg kan gedoen word deur die teler van 'n variëteit van 'n soort plant in artikel 2 bedoel.

[Sub-a. (1) vervang by a. 4 van Wet 15 van 1996.]

(2) 'n Aansoek in subartikel (1) bedoel, kan gedoen word slegs deur iemand wat-

(a) 'n burger is van, of gedomisilieer is in, die Republiek of 'n konvensieland of 'n

ooreenkomsland; of

(b) in die geval van 'n regspersoon, 'n geregistreerde kantoor in die Republiek of 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland het.

[Sub-a. (2) bygevoeg by a. 2 van Wet 14 van 1981.]

[A. 6 vervang by a. 4 van Wet 5 van 1980.]

7. Aansoek om planttelersreg . --

(1) 'n Aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg moet op die voorgeskrewe wyse gedoen word, moet van die voorgeskrewe aansoekgeld en stukke vergesel gaan en moet 'n adres in die Republiek aangee waarheen enige kennisgewing of mededeling gestuur kan word.

(2) 'n Aansoek kragtens subartikel (1) deur iemand wat nie in die Republiek woonagtig is nie of wat, in die geval van 'n regspersoon, nie 'n geregistreerde kantoor in die Republiek het nie, word slegs deur bemiddeling van 'n agent gedoen.

[Sub-a. (2) vervang by a. 3 van Wet 14 van 1981.]

(3) Die registrateur kan vereis-

(a) dat plante van die betrokke variëteit, of van die variëteit waaruit dit ontstaan het, aan hom getoon word; en

(b) dat die bykomende inligting of monsters wat hy of sy nodig ag om te bepaal of die betrokke variëteit 'n variëteit bedoel in artikel 2 is of nie, aan hom of haar voorsien word.

[Par. (b) vervang by a. 5 van Wet 15 van 1996.]

[A. 7 vervang by a. 5 van Wet 5 van 1980.]

8. Voorrang en herdatering van aansoeke. --

(1) Die effektiewe datum van 'n aansoek ingevolge artikel 7 is die datum waarop dit deur die registrateur ontvang word, en indien meer as een aansoek ten opsigte van dieselfde variëteit ontvang word, word voorrang ooreenkomstig die regulasies deur die registrateur verleen.

[Sub-a. (1) vervang by a. 6 van Wet 5 van 1980.]

(2) Indien 'n aansoek ingevolge artikel 7 voorafgegaan word deur 'n aansoek deur of namens dieselfde applikant om beskerming van dieselfde variëteit in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland en laasbedoelde aansoek ingedien is ooreenkomstig die wette wat in daardie land van krag is, verleen die registrateur, ondanks die bepalings van subartikel (1) van hierdie artikel, voorrang aan eersgenoemde aansoek indien-

(a) dit op die voorgeskrewe wyse aan die registrateur voorgelê word binne 'n tydperk van 12 maande na die datum waarop bedoelde voorafgaande aansoek behoorlik in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland ingedien is; en

[Par. (a) vervang by a. 6 (b) van Wet 15 van 1996.]

(b) dit vergesel gaan van 'n aanspraak ten opsigte van die voorrang daarvan; en

(c) dit vergesel gaan van die voorgeskrewe aansoekgeld.

[Sub-a. (2) vervang by a. 6 van Wet 5 van 1980 en gewysig by a. 6 (a) van Wet 15 van 1996.]

(3) 'n Aanspraak bedoel in subartikel (2) (b) word binne die voorgeskrewe tydperk, wat nie minder is as drie maande nie, na die datum waarop dit aan die registrateur voorgelê is, bevestig deur by die registrateur 'n afskrif, as korrek gewaarmerk deur die toepaslike gesag in die betrokke konvensieland of ooreenkomsland, van elke dokument wat die betrokke voorafgaande aansoek uitmaak, in te dien.

[Sub-a. (3) vervang by a. 6 (c) van Wet 15 van 1996.]

(4) 'n Aansoek waaraan voorrang ingevolge subartikel (2) verleen is, word binne die voorgeskrewe tydperk, wat nie minder is as twee jaar nie, bereken vanaf die datum waarop die tydperk van 12 maande in subartikel (2) beoog, verstryk het, bevestig deur dit aan te vul in elke opsig wat nodig is ten einde aan die voorskrifte van hierdie Wet te voldoen.

[Sub-a. (4) vervang by a. 6 (c) van Wet 15 van 1996.]

(5) Indien twee of meer aansoeke om die beskerming van dieselfde variëteit op verskillende datums in verskillende konvensielande of ooreenkomslande ingedien is, word die tydperk bedoel in subartikel (2) (a) bereken vanaf die datum waarop die vroegste van bedoelde aansoeke by die toepaslike gesag ingedien is.

[Sub-a. (5) vervang by a. 6 (c) van Wet 15 van 1996.]

(6) Indien die registrateur ingevolge subartikel (2) voorrang aan 'n aansoek verleen het, geld geen aangeleentheid bedoel in artikel 2 (4) wat binne die in subartikel (2) (a) van hierdie artikel bedoelde tydperk ontstaan, as grond van beswaar teen so 'n aansoek nie.

(7) 'n Voorrang ingevolge subartikel (2) aan 'n aansoek verleen, verval indien 'n in subartikel (3) of (4) bedoelde dokument nie binne die betrokke tydperk ingedien word nie.

(8) Waar 'n aansoek om 'n planttelersreg deur die registrateur ontvang is en 'n nuwe aansoek ten opsigte van enige gedeelte van die onderwerp van eersbedoelde aansoek deur dieselfde applikant gedoen word voordat 'n planttelersreg toegestaan is, kan die registrateur gelas dat die nuwe aansoek teruggedateer word tot 'n datum wat nie vroeër is as die datum waarop eersbedoelde aansoek deur hom ontvang is nie.

(9) Waar 'n aansoek deur die registrateur ontvang, anders as by wyse van verduideliking of verbetering gewysig word voordat die aansoek ingevolge artikel 13 gepubliseer word, kan die registrateur gelas dat die datum van die aansoek die datum is waarop dit gewysig word of, indien dit aan die applikant terugbesorg is, die datum is waarop dit weer deur die registrateur ontvang word.

9. . . . . . .

[A. 9 herroep by a. 7 van Wet 5 van 1980.]

10. Benaming van variëteit. --

(1) Die benaming van 'n variëteit bedoel in artikel 2 moet aan die voorgeskrewe vereistes voldoen en moet voorgestel word deur die persoon wat aansoek doen om die toestaan van 'n planttelersreg ten opsigte daarvan, en sodanige benaming is onderhewig aan goedkeuring deur die registrateur.

[Sub-a. (1) vervang by a. 7 (b) van Wet 15 van 1996.]

(2) Geen benaming, behalwe die goedgekeurde benaming van 'n variëteit, mag te eniger tyd, hetsy voor of na verstryking van die termyn van die planttelersreg ten opsigte daarvan toegestaan, in verband met sodanige variëteit gebruik word nie.

(3) Die bepalings van subartikel (2) word nie so uitgelê nie dat dit die eienaar of ander geregistreerde gebruiker van 'n merk verbied om so 'n merk tesame met die benaming van 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n planttelersreg toegestaan is, te gebruik.

(4) 'n Variëteit word aan die registrateur voorgelê onder dieselfde benaming as die benaming waaronder dit in enige ander land bekend staan, behalwe as die registrateur die benaming as onaanvaarbaar beskou in welke geval die applikant 'n alternatiewe benaming moet voorlê.

[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 7 (c) van Wet 15 van 1996.]

[A. 10 vervang by a. 8 van Wet 5 van 1980 en gewysig by a. 7 (a) van Wet 15 van 1996.]

11. Verwerping van aansoek. --

(1) Die registrateur kan 'n aansoek verwerp wat ingevolge artikel 7 aan hom gedoen is, indien dit vir hom blyk-

(a) dat die aansoek nie aan 'n bepaling van hierdie Wet voldoen nie;

(b) dat die variëteit ten opsigte waarvan die aansoek gedoen is-

(i) nie 'n variëteit bedoel in artikel 2 is nie;

[Sub-par. (i) vervang by a. 8 (a) van Wet 15 van 1996.]

(ii) nie aan 'n bepaling van hierdie Wet voldoen nie; of

(iii) nie tot 'n voorgeskrewe soort plant behoort nie;

[Sub-par. (iii) vervang by a. 9 (a) van Wet 5 van 1980.]

(c) dat die applikant nie ingevolge hierdie Wet geregtig is om die aansoek te doen nie;

(d) dat die aansoek 'n wesenlike wanvoorstelling bevat;

(e) dat die aansoek die regte van die houer van 'n planttelersreg of van iemand aan wie voorlopige beskerming ingevolge artikel 14 verleen is, op bedrieglike wyse raak;

(f) dat die applikant weier of versuim het of nie in staat is om 'n aanvaarbare benaming voor te stel nie;

(g) dat die voortplanting van die betrokke variëteit die herhaalde gebruik sal vereis van voortplantingsmateriaal van 'n ander variëteit waarvoor planttelersregte verleen is aan of om aansoek gedoen is deur iemand anders, tensy sodanige voortplantingsmateriaal gebruik word kragtens 'n lisensie uitgereik ingevolge artikel 25 of 27;

(h) dat die beskrywing ingedien die variëteit nie duidelik beskryf nie;

(i) dat, waar bedoelde aansoek voorafgegaan is deur 'n aansoek deur of namens dieselfde applikant om beskerming van dieselfde variëteit in 'n konvensieland of ooreenkomsland, die beskrywing wat aan hom of haar voorgelê is, verskil van die beskrywing wat in sodanige voorafgaande aansoek voorgelê is of dat die beskrywing in sodanige voorafgaande aansoek nie 'n variëteit bedoel in artikel 2 beskryf nie; of

[Par. (i) vervang by a. 9 (b) van Wet 5 van 1980 en by a. 8 (b) van Wet 15 van 1996.]

(j) dat die bepalings van artikel 19 nie nagekom is by die indien van die aansoek nie.

[Par. (j) bygevoeg by a. 8 (c) van Wet 15 van 1996.]

(2) Indien die registrateur 'n aansoek ingevolge subartikel (1) verwerp, stel hy die persoon wat om die toestaan van 'n planttelersreg aansoek gedoen het skriftelik in kennis van sy beslissing en van die gronde waarop dit gebaseer is.

12. Wysiging van aansoek. --

(1) Iemand wat ingevolge artikel 7 aansoek gedoen het om die toestaan van 'n planttelersreg, kan te eniger tyd voordat so 'n aansoek ingevolge artikel 13 gepubliseer word, tot die beskrywing wat sy aansoek vergesel het, of die voorgestelde benaming van die betrokke variëteit, byvoeg of dit verander.

(2) Indien 'n aansoek om so 'n byvoeging of verandering na bedoelde publikasie gedoen word, kan die registrateur, indien hy van oordeel is dat die byvoeging of verandering van wesenlike belang is, gelas dat die datum van die aansoek om die byvoeging of verandering 'n datum is wat nie vroeër is as die datum

van die betrokke aansoek ingevolge artikel 7 nie, of dat die datum van die aansoek ingevolge artikel 7 'n datum is wat nie later is as die datum van die aansoek om die byvoeging of verandering nie, en die registrateur moet in elke geval die aansoek ingevolge artikel 7 in gewysigde vorm herpubliseer.

13. Publikasie van aansoek. --

(1) Indien die registrateur nie 'n aansoek ingevolge artikel 11 verwerp nie, publiseer hy by kennisgewing in die Staatskoerant die besonderhede betreffende die aansoek wat voorgeskryf is.

(2) Indien 'n aansoek ingevolge subartikel (1) gepubliseer, teruggetrek word voordat 'n planttelersreg ten opsigte daarvan ingevolge hierdie Wet toegestaan of geweier word, publiseer die registrateur die feit van sodanige terugtrekking by kennisgewing in die Staatskoerant.

14. Verlening van voorlopige beskerming. --

(1) Die registrateur kan, op versoek van iemand wie se aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg ingevolge artikel 13 (1) gepubliseer staan te word, 'n beskermingsbevel ten opsigte van die betrokke variëteit aan so iemand uitreik.

(2) Bedoelde beskermingsbevel word uitgereik slegs-

(a) indien die registrateur oortuig is dat die inligting, fasiliteite en materiaal wat hy nodig het om hom in staat te stel om die aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg te oorweeg, aan hom voorsien is; en

(b) indien die applikant 'n skriftelike onderneming aan die registrateur verstrek het dat hy, behoudens die bepalings van subartikel (3), terwyl die beskermingsbevel van krag is, nie enige voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit in die Republiek sal verkoop of tot die verkoop daarvan sal toestem nie.

(3) (a) Die houer van 'n beskermingsbevel is, ondanks 'n in subartikel (2) (b) bedoelde onderneming, geregtig om voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit vir doeleindes van vermeerdering of toetsing te verkoop of vir verkoop aan te bied.

(b) Al die voortplantingsmateriaal wat regstreeks of onregstreeks tydens bedoelde vermeerdering of toetsing voortgebring word, asook enige ongebruikte voortplantingsmateriaal, word of bly die eiendom van die houer van die beskermingsbevel.

15. Uitwerking van voorlopige beskerming. --

Terwyl 'n beskermingsbevel van krag is, is die variëteit ten opsigte waarvan dit uitgereik is, beskerm asof 'n planttelersreg ten opsigte daarvan uitgereik is, en enigiets wat 'n skending van 'n planttelersreg sou uitmaak of wat gedingsvatbaar sou wees in verrigtinge deur die houer van so 'n reg, is, indien dit gedoen word met betrekking tot 'n aldus beskermde variëteit, gedingsvatbaar.

16. Beëindiging van voorlopige beskerming. --

(1) 'n Beskermingsbevel ingevolge artikel 14 uitgereik, hou, behoudens die bepalings van subartikel (2), op om van krag te wees op die datum waarop die registrateur die aansoek om 'n planttelersreg ten opsigte van die variëteit waarvoor die beskermingsbevel uitgereik is, finaal toestaan of weier.

(2) 'n Beskermingsbevel-

(a) kan op 'n vroeër datum deur die registrateur ingetrek word indien omstandighede dit na sy oordeel regverdig; en

(b) moet op 'n vroeër datum deur die registrateur ingetrek word indien hy oortuig is dat die houer daarvan-

(i) nagelaat het om aan die bepalings van 'n in paragraaf (b) van artikel 14 (2) bedoelde onderneming te voldoen; of

(ii) 'n onderneming, hetsy dit regtens afdwingbaar is al dan nie, aan iemand anders gegee het ingevolge waarvan so 'n houer die reg ontneem word om 'n in artikel 47 bedoelde geding, of 'n aksie om skadevergoeding ten opsigte van 'n skending van 'n planttelersreg, in te stel.

[Sub-a. (2) vervang by a. 10 van Wet 5 van 1980.]

17. Beswaar teen toestaan van planttelersreg. --

(1) Enigiemand kan binne die voorgeskrewe tyd, op die voorgeskrewe wyse en by betaling van die voorgeskrewe geld 'n beswaar by die registrateur indien teen die toestaan van 'n planttelersreg na aanleiding van 'n aansoek ingevolge artikel 7.

(2) Die applikant kan binne die voorgeskrewe tyd en op die voorgeskrewe wyse by die registrateur 'n teenverklaring teen so 'n beswaar indien.

[A. 17 vervang by a. 11 van Wet 5 van 1980.]

18. Aanhoor van 'n beswaar. --

(1) 'n Beswaar ingevolge artikel 17 word aangehoor op die datum, plek en tyd deur die registrateur bepaal, en hy stel die persoon wat beswaar maak en die persoon wat aansoek gedoen het om die betrokke planttelersreg skriftelik daarvan in kennis.

(2) Die registrateur kan na goeddunke een of meer persone aanstel wat, na sy oordeel, ervaring van die regspleging het of bedrewe is in 'n aangeleentheid wat by die verrigtinge oorweeg mag word, om hom behulpsaam te wees en van advies te dien aangaande die aanhoor van die beswaar, en die vergoeding van so 'n persoon is soos voorgeskryf en word deur die Staat betaal.

(3) Die registrateur kan vir doeleindes van die aanhoor van 'n beswaar-

(a) enigiemand wat, na sy oordeel, wesenlike inligting kan verstrek aangaande die onderwerp van die verrigtinge of wat na hy vermoed 'n stuk wat betrekking het op die onderwerp van die verrigtinge in sy besit of bewaring of onder sy beheer het, dagvaar om op 'n tyd en plek in die dagvaarding vermeld voor hom te verskyn om ondervra te word of om daardie stuk oor te lê, en die registrateur kan 'n stuk wat aldus oorgelê is vir ondersoek behou;

(b) enigiemand wat by die verrigtinge as 'n getuie opgeroep word, 'n eed oplê of 'n bevestiging van hom aanneem; en

(c) enigiemand wat by die verrigtinge aanwesig is, as 'n getuie oproep en hom ondervra en hom aansê om enige stuk in sy besit of bewaring of onder sy beheer oor te lê.

(4) Die prosedure by die aanhoor van 'n beswaar is soos voorgeskryf.

[Sub-a. (4) vervang by a. 9 van Wet 15 van 1996.]

(5) Die persoon wat beswaar maak en die persoon wat aansoek gedoen het om die betrokke planttelersreg kan, indien hy of sy voor die registrateur by die aanhoor van 'n beswaar verskyn, deur 'n advokaat of 'n prokureur of deur 'n patentagent geregistreer ingevolge artikel 20 van die Wet op Patente, 1978 (Wet 57 van 1978), verteenwoordig word.

[Sub-a. (5) vervang by a. 9 van Wet 15 van 1996.]

6) Die registrateur stel na die aanhoor van 'n beswaar die persoon wat beswaar maak en die persoon wat aansoek gedoen het om die verlening van die betrokke planttelersreg skriftelik in kennis van sy beslissing en van die gronde waarop dit gebaseer is.

(7) 'n Aansoek ten opsigte waarvan die registrateur 'n beswaar handhaaf, verval, en die registrateur publiseer by kennisgewing in die Staatskoerant die besonderhede betreffende die verval wat voorgeskryf is.

19. Oorweging en ondersoek van aansoeke. --

(1) (a) Die registrateur oorweeg elke aansoek om die toestaan van planttelersreg ingevolge artikel 13 (1) gepubliseer en alle dokumente en enige ander bewys wat in verband daarmee aan hom voorgelê is, ten einde te bepaal of die aansoek aan die voorskrifte van hierdie Wet voldoen.

(b) Waar 'n beswaar ingevolge artikel 17 ingedien is, of 'n onderneming of waarborg ingevolge subartikel (4) (b) vereis word, stel die registrateur die oorweging van die betrokke aansoek uit totdat die beswaar afgehandel is of die vereiste onderneming of waarborg voorsien is.

[Par. (b) vervang by a. 3 (a) van Wet 38 van 1983.]

(2) Die registrateur moet, ten einde hom of haar in staat te stel om te bepaal of 'n variëteit ingevolge artikel 2 vir die toestaan van 'n planttelersreg kwalifiseer-

(a) die toetse en proewe wat hy of sy nodig ag onderneem of laat onderneem met 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n aansoek ingevolge subartikel (1) oorweeg word; of

(b) die resultate van toetse en proewe gebruik wat ingevolge 'n ooreenkoms bedoel in artikel 5A van die toepaslike gesag in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland verkry is.

[Sub-a. (2) vervang by a. 3 (b) van Wet 38 van 1983 en by a. 10 (a) van Wet 15 van 1996.]

(3) Iemand wie se aansoek oorweeg word, moet, vir die doeleindes van bedoelde toetse en proewe en op die tyd en plek wat die registrateur bepaal-

(a) behoudens die bepalings van subartikel (4), die toepaslike voorgeskrewe ondersoekgeld betaal; en

[Par. (a) vervang by a. 3 (c) van Wet 38 van 1983.]

(b) die registrateur voorsien-

(i) van die voortplantingsmateriaal wat hy nodig het;

(ii) van die eksemplare van plante van die variëteit of van dele van sulke plante wat hy nodig het; en

(iii) van die inligting in verband met die variëteit wat hy nodig het.

(4) (a) Die koste verbonde aan die verkryging van die resultate bedoel in subartikel (2) (b) word op die tyd en plek deur die registrateur bepaal, deur die persoon wie se aansoek oorweeg word, aan die registrateur betaal.

(b) Die registrateur kan vereis dat 'n persoon wie se aansoek om 'n planttelersreg oorweeg word, hom van 'n skriftelike onderneming of 'n geskikte waarborg betreffende 'n betaling in paragraaf (a) bedoel, voorsien voordat hy enige stappe doen om die resultate van toetse en proewe met die betrokke variëteit ingevolge 'n ooreenkoms in artikel 5A bedoel, te verkry.

[Sub-a. (4) vervang by a. 12 (a) van Wet 5 van 1980 en by a. 3 (d) van Wet 38 van 1983.]

(5) Iemand wie se aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg oorweeg word, moet die registrateur binne 12 maande na die indien van die aansoek voorsien van alles wat die registrateur benodig by die ondersoek van die aansoek, insluitend, waar toepaslik-

(a) plantmateriaal vir die onderneem van toetse en proewe;

(b) dokumente of ander bewyse;

(c) skriftelike ondernemings of geskikte waarborge vir die vergoeding van koste;

(d) inligting deur die registrateur benodig; en

(e) enige addisionele plantmateriaal, dokumente, bewyse, inligting, ondernemings of waarborge deur die registrateur benodig ten einde hom of haar in staat te stel om 'n behoorlike ondersoek te doen.

[Sub-a. (5) vervang by a. 12 (b) van Wet 5 van 1980, geskrap by a. 3 (e) van Wet 38 van 1983 en ingevoeg by a. 10 (b) van Wet 15 van 1996.]

(6) (a) Die registrateur kan die nakoming van subartikel (5) op aansoek skriftelik uitstel vir 'n bepaalde tydperk.

(b) 'n Aansoek om uitstel word skriftelik aan die registrateur gerig en moet redes vir die verlening van uitstel uiteensit.

[ Sub-a. (6) vervang by a. 12 (c) van Wet 5 van 1980, geskrap by a. 3 (e) van Wet 38 van 1983 en ingevoeg by a. 10 (b) van Wet 15 van 1996.]

20. Toestaan van planttelersreg. --

(1) Die registrateur staan 'n planttelersreg ten opsigte van 'n variëteit toe na oorweging van 'n aansoek ingevolge artikel 19 en die nagaan van die resultate van enige toetse of proewe met die betrokke variëteit gedoen, indien-

(a) die aansoek aan die voorskrifte van hierdie Wet voldoen;

(b) die applikant ingevolge hierdie Wet geregtig is om aansoek te doen;

(c) die variëteit 'n variëteit bedoel in artikel 2 is en aan die voorskrifte van hierdie Wet voldoen; en

(d) geen gelde ingevolge artikel 19 deur die applikant verskuldig is nie.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 4 van Wet 38 van 1983 en vervang by a. 11 van Wet 15 van 1996.]

(2) Die registrateur moet ten opsigte van elke planttelersreg wat toegestaan word-

(a) 'n sertifikaat van registrasie ten opsigte daarvan uitreik aan die persoon wat om die toestaan van die reg aansoek gedoen het;

(b) die toepaslike besonderhede bedoel in artikel 4 (1) in die register aanteken; en

(c) die besonderhede betreffende die toestaan van so 'n reg wat voorgeskryf is, by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

(3) (a) Indien die registrateur die toestaan van 'n planttelersreg weier, moet hy die persoon wat om die reg aansoek gedoen het skriftelik in kennis stel van sy beslissing en van die gronde waarop dit gebaseer is, en moet hy, behoudens die bepalings van paragraaf (b), die besonderhede betreffende die weiering wat voorgeskryf is, by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

(b) Die gronde waarop die beslissing gebaseer is, word nie in bedoelde kennisgewing gepubliseer nie en lê nie ter insae nie, behalwe op bevel van 'n hof.

21. Termyn van planttelersreg. --

'n Planttelersreg word toegestaan vir 'n termyn van-

(a) 25 jaar, in die geval van rankplante en bome; en

(b) 20 jaar, in alle ander gevalle,

bereken vanaf die datum waarop 'n sertifikaat van registrasie ingevolge paragraaf (a) van artikel 20 (2) uitgereik word.

[A. 21 vervang by a. 13 van Wet 5 van 1980 en by a. 12 van Wet 15 van 1996.]

22. Betaling van jaargeld. --

(1) Iemand aan wie 'n planttelersreg verleen is, betaal jaarliks gedurende die geldigheidstermyn van so 'n reg aan die registrateur die jaargeld wat ten opsigte van so 'n reg voorgeskryf is.

(2) (a) Die eerste sodanige jaargeld is betaalbaar op of voor 1 Januarie van die jaar wat volg op die datum waarop 'n planttelersreg verleen word, en 'n daaropvolgende jaargeld is voor 1 Januarie van elke jaar betaalbaar.

(b) Behoudens die betaling van die addisionele gelde wat voorgeskryf is, verleng die registrateur op aansoek die tyd vir die betaling van 'n jaargeld vir 'n tydperk van hoogstens 6 maande of vir tydperke waarvan die totaal nie 6 maande te bowe gaan nie.

23. Regte van houer van planttelersreg. --

(1) Die uitwerking van die beskerming wat ingevolge hierdie Wet deur die toestaan van 'n planttelersreg verleen word, is dat voorafgaande magtiging gedurende die termyn van die planttelersreg by wyse van 'n lisensie ingevolge artikel 25 of 27 verkry moet word deur iemand wat beoog om die-

(a) produksie of reproduksie (vermeerdering);

(b) voorbereiding vir die doeleinde van voortplanting;

(c) verkoop of enige ander wyse van bemarking;

(d) uitvoer;

(e) invoer;

(f) bevoorrading vir enige van die doeleindes bedoel in paragrawe (a) tot (e), van-

(i) voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit; of

(ii) geoeste materiaal, met inbegrip van plante, wat verkry is deur die ongeoorloofde gebruik van voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit,

te onderneem.

(2) Die Minister kan by kennisgewing in die Staatskoerant die uitwerking van die beskerming in subartikel (1) beoog, uitbrei na produkte wat regstreeks vervaardig word van geoeste materiaal beoog in subartikel (1) (ii).

(3) Die bepalings van subartikels (1) en (2) is nie van toepassing nie indien die teler redelike geleentheid gehad het om sy of haar reg ten aansien van voortplantingsmateriaal van die beskermde variëteit uit te oefen.

(4) (a) Die bepalings van subartikels (1), (2) en (3) is ook van toepassing op variëteite-

(i) wat wesenlik afstam van die beskermde variëteit, waar die beskermde variëteit nie self 'n wesenlik afgestamde variëteit is nie;

(ii) wat nie van die beskermde variëteit onderskeibaar is nie soos beoog in artikel 2 (2) (b); of

(iii) waarvan die produksie die herhaalde gebruik van die beskermde variëteit vereis.

(b) Vir die doeleindes van paragraaf (a) (i) word 'n variëteit geag wesenlik van 'n ander variëteit af te stam, indien-

(i) dit oorwegend afstam van daardie ander variëteit, of van 'n variëteit wat op sigself oorwegend afstam van daardie ander variëteit, met behoud van die kenmerkende eienskappe van daardie ander variëteit; en

(ii) dit duidelik onderskeibaar is van daardie ander variëteit; en

(iii) dit, afgesien van die verskille wat deur die proses van afstamming veroorsaak word, met daardie ander variëteit ooreenstem wat betref die kenmerkende eienskappe.

(5) Ondanks die bepalings van subartikel (1) het die houer van 'n planttelersreg, gedurende die tydperk wat die Minister voorskryf as 'n tydperk vir die uitoefening van alleenreg ingevolge artikel 25 (4) ten opsigte van die soort plant waartoe so 'n variëteit behoort, die alleenreg om met betrekking tot die betrokke variëteit 'n aktiwiteit in subartikel (1) bedoel, te onderneem of so 'n aktiwiteit deur iemand anders te laat onderneem.

(6) Ondanks die bepalings van artikel 23A (a) skend iemand wat enige voortplantingsmateriaal van 'n variëteit op 'n regmatige wyse verkry het, nie die planttelersreg ten opsigte van die variëteit nie indien hy of sy-

(a) daardie voortplantingsmateriaal herverkoop;

(b) behoudens die bepalings van subartikel (2), enige plant, reproduktiewe materiaal of 'n produk van daardie voortplantingsmateriaal verkry, verkoop vir ander doeleindes as die verdere voortplanting of vermeerdering daarvan;

(c) daardie voortplantingsmateriaal gebruik of vermeerder in die ontwikkeling van 'n ander variëteit;

(d) daardie voortplantingsmateriaal gebruik vir bona fide-navorsingsdoeleindes;

(e) daardie voortplantingsmateriaal gebruik vir private of nie-kommersiële doeleindes; of

(f) 'n boer is wat op grond wat deur hom of haar geokkupeer word geoeste materiaal wat op dié grond van daardie voortplantingsmateriaal verkry is vir doeleindes van voortplanting gebruik: Met dien verstande dat geoeste materiaal wat van die herplante voortplantingsmateriaal verkry word nie vir doeleindes van voortplanting gebruik word nie deur enige ander persoon as daardie boer.

(7) Ondanks die bepalings van subartikel (6) (b) geniet 'n sierplant ten opsigte waarvan 'n planttelersreg verleen is en enige deel daarvan wat normaalweg verkoop word vir ander doeleindes as die vermeerdering daarvan, die beskerming van daardie reg wanneer dit kommersieel gebruik word as voortplantingsmateriaal by die voortbrenging van so 'n sierplant of van 'n snyblom.

(8) 'n Kennisgewing ingevolge subartikel (2) word, in 'n geval waar die houer van die betrokke planttelersreg 'n burger is van, of gedomisilieer is in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland of, in die geval van 'n regspersoon, 'n geregistreerde kantoor in 'n konvensieland of 'n ooreenkomsland het, uitgereik slegs indien sodanige houer ingevolge die wette van bedoelde land ooreenstemmende beskerming in daardie land kan bekom.

[A. 23 gewysig by a. 14 van Wet 5 van 1980 en by aa. 46 en 47 van Wet 97 van 1986 en vervang by a. 13 van Wet 15 van 1996.]

23A. Skending van planttelersreg. --

'n Planttelersreg word geskend deur iemand wat-

(a) nie die houer van die planttelersreg is nie en wat sonder 'n lisensie verkry kragtens artikel 25 of 27, 'n handeling beoog in artikel 23 (1) verrig of laat verrig;

(b) 'n lisensie verkry het kragtens artikel 25 of 27, maar versuim om aan 'n bepaling of voorwaarde van die lisensie te voldoen;

(c) die goedgekeurde benaming van 'n beskermde variëteit vir watter doel ook al met betrekking tot plante of voortplantingsmateriaal van enige ander variëteit gebruik; en

(d) plante of voortplantingsmateriaal van 'n beskermde variëteit onder 'n ander benaming as die goedgekeurde benaming van daardie variëteit verkoop.

[A. 23A ingevoeg by a. 14 van Wet 15 van 1996.]

24. Instandhouding van voortplantingsmateriaal. --

(1) Die houer van 'n planttelersreg moet verseker dat hy gedurende die termyn van die reg in staat is-

(a) om die registrateur op aanvraag te voorsien van voortplantingsmateriaal van die variëteit ten opsigte waarvan die reg toegestaan is en wat geskik is om bedoelde variëteit op so 'n wyse te reproduseer dat die eienskappe daarvan ooreenkom met dié wat ten tyde van die toestaan van die betrokke reg beskryf is;

[Par. (a) vervang by a. 15 van Wet 5 van 1980.]

(b) om op versoek aan die registrateur die inligting en fasiliteite te verskaf wat hy nodig ag om homself te oortuig dat sodanige houer voortplantingsmateriaal in stand hou wat aan die in paragraaf (a) bedoelde vereistes voldoen.

(2) Die registrateur kan 'n inspeksie wat hy nodig ag, onderneem in verband met 'n in subartikel (1) bedoelde aangeleentheid.

24A. Bevoegdheid om perseel te betree, ondersoek in te stel, monsters te neem en beslag te lê op sekere voorwerpe. --

(1) Die registrateur, 'n beampte in die departement of 'n persoon bedoel in artikel 3 (3) (a) kan te enige redelike tyd, op gesag van 'n lasbrief ingevolge subartikel (3) uitgereik-

(a) 'n plek, perseel of voertuig betree en inspekteer waarin of waarop, of waarin of waarop op redelike gronde vermoed word, 'n plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp ten opsigte waarvan hierdie Wet van toepassing is, geproduseer, gereproduseer, geteel, gekweek, verwerk, behandel, berei, getoets, ondersoek, ontleed, geklassifiseer, voorafverpak, gemerk, geëtiketteer, gehou, aangehou, verpak, verwyder, vervoer, uitgestal of verkoop word;

(b) 'n persoon in beheer van of in diens by sodanige plek, perseel of voertuig gelas om-

(i) 'n boek, rekord of ander dokument wat op daardie plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp betrekking het en wat in die besit of onder die beheer van daardie persoon is, te lewer;

(ii) sodanige inligting as wat hy of sy het met betrekking tot daardie plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp te verskaf;

(iii) sodanige hulp te verleen as wat die registrateur, beampte of persoon benodig ten einde hom of haar in staat te stel om sy of haar werksaamhede ingevolge hierdie Wet te verrig;

(c) 'n boek, rekord of ander dokument ondersoek en afskrifte daarvan of uittreksels daaruit maak;

(d) beslag lê op enige plant, voortplantingsmateriaal, stof, boek, rekord of ander dokument of voorwerp wat tersaaklik is of mag wees by 'n vervolging kragtens hierdie Wet en dit in sy of haar bewaring hou: Met dien verstande dat die persoon uit wie se besit of beheer 'n boek, rekord of dokument geneem is, op sy of haar eie koste en onder toesig van die registrateur, beampte of persoon, afskrifte daarvan of uittreksels daaruit kan maak;

(e) monsters neem van 'n plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp wat gebruik word of vir gebruik beoog word in die produksie, reproduksie, teel, kweek, verwerking, behandeling, bereiding, toets, ondersoek, ontleding, klassifikasie, voorafverpakking, merk, etikettering, hou, aanhou, verpakking, verwydering, vervoer, uitstalling of verkoop daarvan, en van 'n plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp wat ingevolge paragraaf (d) in beslag geneem is, en die monsters ondersoek, analiseer of klassifiseer.

(2) 'n Monster ingevolge subartikel (1) (e) of (6) geneem-

(a) bestaan uit die hoeveelheid of massa wat die registrateur bepaal, geneem ooreenkomstig die metodes wat hy of sy bepaal;

(b) moet in die teenwoordigheid van die persoon in beheer van, of die eienaar of bewaarder van, sodanige plant, voortplantingsmateriaal, stof of ander voorwerp geneem word, of, indien sodanige persoon, eienaar of bewaarder nie beskikbaar is nie, in die teenwoordigheid van enige ander getuie, en die vorm deur die registrateur bepaal, word ten opsigte daarvan voltooi;

(c) word, indien nodig, op 'n wyse deur die aard daarvan toegelaat, verpak en geïdentifiseer; en

(d) word met die minste moontlike vertraging getoets, ondersoek of ontleed ooreenkomstig die metodes wat die registrateur bepaal of wat voorgeskryf is, en die uitslag van so 'n toets, ondersoek of ontleding word op die vorm deur die registrateur bepaal, aangeteken.

(3) 'n Lasbrief bedoel in subartikel (1) word deur 'n regter van die Hooggeregshof of 'n landdros wat regsbevoegdheid het in die gebied waar die betrokke plek of perseel geleë is, of waar die voertuig is of sal wees, uitgereik, en word slegs uitgereik indien dit aan die regter of landdros blyk uit inligting onder eed dat daar redelike gronde is om te glo dat 'n voorwerp in subartikel (1) (a) en (b) genoem, op of in sodanige plek, perseel of voertuig is, en moet aandui welke van die handelinge in subartikel (1) daarkragtens verrig mag word deur die persoon aan wie dit uitgereik is.

(4) 'n Lasbrief uitgereik ingevolge hierdie artikel word in die dag uitgevoer tensy die persoon wat die lasbrief uitreik, uitvoering daarvan in die nag, op tye wat redelik is, magtig, en betreding op en deursoeking van 'n plek, perseel of voertuig in die lasbrief vermeld, word gedoen met streng voorbehoud van welvoeglikheid en orde, met inbegrip van-

(a) die reg van 'n persoon tot, eerbied vir en die beskerming van sy of haar waardigheid;

(b) die reg van 'n persoon tot vryheid en sekuriteit; en

(c) die reg van 'n persoon tot sy of haar persoonlike privaatheid.

(5) Die registrateur, beampte of persoon wat 'n lasbrief ingevolge hierdie artikel uitvoer, moet onmiddellik voor hy of sy met die uitvoering begin-

(a) homself of haarself identifiseer aan die persoon in beheer van die plek, perseel of voertuig, indien sodanige persoon teenwoordig is, en 'n afskrif van die lasbrief aan sodanige persoon oorhandig, of indien sodanige persoon nie teenwoordig is nie, sodanige afskrif op 'n opvallende plek by die plek, perseel of voertuig aanbring;

(b) aan sodanige persoon, op sy of haar versoek, besonderhede met betrekking tot sy of haar magtiging om die lasbrief uit te voer, verskaf.

(6) Die registrateur, 'n beampte van die departement of persoon bedoel in artikel 3 (3) (a) kan sonder 'n lasbrief 'n plek, perseel of voertuig betree, en vir enige voorwerp in subartikel (1) bedoel, soek, daarop beslag lê, monsters daarvan neem en dit verwyder indien die persoon wat daartoe bevoeg is tot sodanige betreding, deursoeking, beslaglegging, monsterneming en verwydering instem.

(7) (a) Die registrateur, beampte of persoon wat op gesag van 'n lasbrief uitgereik ingevolge subartikel (3) 'n plek, perseel of voertuig betree en deursoek, kan die geweld gebruik wat redelikerwys nodig is om enige verset teen sodanige betreding en deursoeking te bowe te kom.

(b) Niemand mag 'n plek, perseel of voertuig betree en deursoek nie tensy hy of sy eers hoorbaar toegang tot die plek, perseel of voertuig geëis het en die doel van sy of haar betreding verklaar het, behalwe indien sodanige persoon op redelike gronde van mening is dat 'n voorwerp vernietig mag word indien sodanige toegang eers geëis word en sodanige doel eers verklaar word.

(8) Indien, gedurende die uitvoering van 'n lasbrief of die doen van 'n deursoeking ingevolge hierdie artikel, 'n persoon beweer dat 'n voorwerp wat in of op die betrokke plek, perseel of voertuig gevind is, geprivilegieerde inligting bevat en die inspeksie en verwydering van sodanige voorwerp weier, moet die persoon wat die lasbrief of die deursoeking uitvoer, indien hy of sy van oordeel is dat die voorwerp inligting bevat wat op die ondersoek betrekking het en dat sodanige inligting vir die ondersoek of verhoor nodig is, die griffier van die Hooggeregshof wat regsbevoegdheid het, of sy of haar gedelegeerde, versoek om op die voorwerp beslag te lê en dit vir veilige bewaring te verwyder totdat 'n geregshof 'n beslissing gegee het oor die vraag of die betrokke inligting geprivilegieerd is al dan nie.

(9) 'n Lasbrief ingevolge hierdie artikel uitgereik, kan op enige dag uitgereik word en bly van krag totdat-

(a) dit uitgevoer is; of

(b) dit ingetrek word deur die persoon wat dit uitgereik het of, indien die persoon nie beskikbaar is nie, deur iemand met dergelike gesag; of

(c) een maand verstryk het vanaf die dag waarop dit uitgereik is; of

(d) die doel waarvoor die lasbrief uitgereik is nie langer bestaan nie,

welke ook al eerste plaasvind.

(10) Indien geen strafregtelike verrigtinge in verband met 'n plant, voortplantingsmateriaal, 'n stof, 'n boek, 'n rekord of 'n ander voorwerp of dokument wat ingevolge subartikel (1) of (6) in beslag geneem is, ingestel word nie, of indien dit blyk dat sodanige plant, voortplantingsmateriaal, stof, boek, rekord of ander voorwerp of dokument nie by die verhoor vir doeleindes van getuienis of 'n bevel van die hof benodig word nie, moet daardie plant, voortplantingsmateriaal, stof, boek, rekord, of ander voorwerp of dokument teruggegee word aan die persoon van wie dit in beslag geneem is.

[A. 24A ingevoeg by a. 15 van Wet 15 van 1996.]

25. Lisensies. --

(1) Die houer van 'n planttelersreg kan op die skriftelike versoek van iemand, aan so iemand 'n lisensie uitreik waarkragtens so iemand gemagtig word om enige in artikel 23 bedoelde aktiwiteit te onderneem.

[Sub-a. (1) vervang by a. 16 van Wet 5 van 1980.]

(2) Die lisensie kan voorwaardes insluit betreffende-

(a) die hoeveelheid voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit wat aan die lisensiehouer voorsien moet word, en die prys daarvan;

(b) die tantième wat ten opsigte van die benutting van die lisensie betaalbaar is;

(c) die inligting wat aan die houer van die betrokke planttelersreg verstrek moet word betreffende die mate waarin die lisensie benut word;

(d) die geldigheidsduur van die lisensie, wat nie die termyn van die betrokke planttelersreg oorskry nie;

(e) die oordrag daarvan;

(f) die strafmaatreëls wat van toepassing is met betrekking tot 'n voorwaarde wat nie nagekom word nie; en

(g) enige ander aangeleentheid waartoe die partye ooreenkom.

(3) Die houer van 'n planttelersreg stel die registrateur binne die voorgeskrewe tydperk op die voorgeskrewe wyse in kennis van elke lisensie wat ingevolge hierdie artikel deur hom of haar uitgereik is, en voorsien die registrateur van 'n afskrif van elke sodanige lisensie.

[Sub-a. (3) vervang by a. 16 van Wet 15 van 1996.]

(4) Gedurende die tydperk wat die Minister ingevolge artikel 23 (5) voorskryf as 'n tydperk vir die uitoefening van alleenreg ten opsigte van die soort plant waartoe 'n variëteit behoort, kan die registrateur nie ingevolge artikel 27 'n verpligte lisensie ten opsigte van daardie variëteit uitreik nie.

[Sub-a. (4) vervang by a. 16 van Wet 15 van 1996.]

26. Aansoek om verpligte lisensie. --

(1) Iemand wat van oordeel is dat die houer van 'n planttelersreg op onredelike gronde weier om 'n in artikel 25 bedoelde lisensie aan hom uit te reik, of dat so 'n houer onredelike voorwaardes vir die uitreiking van so 'n lisensie oplê, kan op die voorgeskrewe wyse en by betaling van die voorgeskrewe geld by die registrateur aansoek doen om die uitreiking aan hom van 'n verpligte lisensie ten opsigte van die betrokke planttelersreg.

[Sub-a. (1) vervang by a. 17 (a) van Wet 5 van 1980.]

(2) . . . . . .

[Sub-a. (2) geskrap by a. 17 (b) van Wet 5 van 1980.]

(3) . . . . . .

[Sub-a. (3) geskrap by a. 17 (b) van Wet 5 van 1980.]

(4) Die houer van so 'n planttelersreg kan binne die voorgeskrewe tyd en op die voorgeskrewe wyse 'n teenverklaring by die registrateur indien waarin die besonderhede uiteengesit word van elke grond waarop hy die betrokke aansoek betwis.

[Sub-a. (4) vervang by a. 17 (c) van Wet 5 van 1980.]

(5) Die houer van so 'n planttelersreg beteken 'n afskrif van die teenverklaring aan die persoon wat die aansoek gedoen het en voorsien die registrateur van bewys van die betekening daarvan.

(6) Indien die persoon wat die aansoek gedoen het en die houer van die betrokke planttelersreg te eniger tyd nadat die aansoek by die registrateur ingedien is, tot 'n ooreenkoms geraak met betrekking tot die uitreiking van 'n lisensie, stel die persoon wat die aansoek gedoen het die registrateur van die ooreenkoms in kennis, waarop die aansoek verval.

27. Uitreiking van verpligte lisensie. --

(1) 'n Aansoek ingevolge artikel 26 word aangehoor op die datum, plek en tyd wat die registrateur bepaal, en hy stel die persoon wat die aansoek gedoen het en die houer van die planttelersreg skriftelik daarvan in kennis.

(2) Die bepalings van artikels 18 (2), (3), (4), (5) en (6) is mutatis mutandis van toepassing met betrekking tot die aanhoor van die aansoek.

(3) Indien die registrateur oortuig is dat die houer van 'n planttelersreg 'n lisensie ingevolge artikel 25 onredelik weier of onredelike voorwaardes vir die uitreiking daarvan oplê, en oortuig is dat, as gevolg van bedoelde weiering of bedoelde voorwaardes, daar nie in die redelike behoeftes van die publiek met betrekking tot die betrokke variëteit voorsien word of voorsien sal word nie, kan hy of sy 'n verpligte lisensie uitreik-

(a) wat die in paragrawe (a) tot en met (f) van artikel 25 (2) bedoelde voorwaardes bevat asook sodanige ander voorwaardes as wat die registrateur bepaal;

(b) wat te eniger tyd deur die registrateur hersien kan word op grond van vertoë aan hom gerig vir die wysiging of intrekking daarvan.

[Sub-a. (3) gewysig by a. 17 van Wet 15 van 1996.]

(4) By die vasstelling van die bedinge van 'n verpligte lisensie moet die registrateur probeer verseker dat voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit vir die publiek beskikbaar sal wees teen billike pryse wat bestaanbaar is met die verkryging daaruit van 'n redelike voordeel deur die houer van 'n planttelersreg.

(5) (a) 'n Verpligte lisensie kan aan enigiemand verleen word ongeag of die houer van die betrokke planttelersreg ingevolge artikel 25 'n lisensie aan iemand anders verleen het.

(b) Die uitreiking van 'n verpligte lisensie verhinder nie die houer van die planttelersreg om addisionele lisensies ingevolge artikel 25 uit te reik nie.

28. Medehouers van planttelersreg. --

(1) Waar 'n planttelersreg na die inwerkingtreding van hierdie Wet aan twee of meer persone gesamentlik toegestaan word, is elkeen van sodanige persone, behoudens 'n andersluidende skriftelike ooreenkoms tussen hulle, geregtig-

(a) op 'n gelyke aandeel in sodanige reg;

(b) om in verband daarmee enige in artikel 23 bedoelde aktiwiteit vir eie voordeel te onderneem, indien hy so 'n aktiwiteit aan die ander medehouers openbaar; en

[Par. (b) vervang by a. 18 van Wet 5 van 1980.]

(c) om enige geding ten opsigte van 'n skending van daardie reg in te stel.

(2) 'n Medehouer van 'n planttelersreg is nie sonder die toestemming van die ander medehouers geregtig-

(a) om 'n lisensie ingevolge artikel 25 uit te reik nie; of

(b) om die geheel of 'n deel van sy belang in so 'n reg oor te dra nie.

(3) Wanneer 'n geding gefundeer is op die verkoop van voortplantingsmateriaal deur 'n medehouer van 'n planttelersreg, word so 'n medehouer vir doeleindes van die geding geag die alleenhouer van die planttelersreg te wees.

(4) Die hof kan op aansoek van 'n medehouer van 'n planttelersreg en nadat 'n geleentheid aan elke ander medehouer van die reg gegee is om aangehoor te word, enige lasgewing met betrekking tot die oordrag van die reg of 'n deel daarvan, of met betrekking tot die toestaan van 'n lisensie ten opsigte van die reg, of met betrekking tot die gebruik en ontwikkeling van die reg, uitreik wat reg en dienstig blyk, en elke medehouer gee uitvoering aan elke sodanige lasgewing.

(5) Indien iemand wat uitvoering aan 'n lasgewing ingevolge subartikel (4) moet gee, in gebreke bly om binne die tydperk deur die hof bepaal, of, by ontstentenis van so 'n bepaling, nadat hy skriftelik deur 'n medehouer van die betrokke reg aangesê is om dit te doen, enige instrument te verly of 'n handeling te verrig of enigiets te doen wat nodig is om aan die lasgewing uitvoering te gee, kan die hof enigiemand magtig om in naam van en ten behoewe van die persoon wat aldus in gebreke bly die betrokke instrument te verly of die betrokke handeling of iets te verrig of te doen.

29. Oordrag van planttelersreg. --

(1) Die houer van 'n planttelersreg kragtens hierdie Wet of die Wet op Planttelersregte, 1964 (Wet 22 van 1964), moet binne die voorgeskrewe tydperk nadat so 'n reg of 'n deel daarvan aan iemand anders oorgedra is op die voorgeskrewe wyse en by betaling van die voorgeskrewe geld-

(a) die registrateur in kennis stel van die naam en adres van die persoon aan wie die reg of deel daarvan oorgedra is; en

(b) die registrateur van bewys voorsien dat 'n kennisgewing van bedoelde oordrag beteken is aan elkeen wat ten opsigte van daardie reg gelisensieer is.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 18 (a) van Wet 15 van 1996.]

(2) Iemand aan wie 'n planttelersreg of 'n deel daarvan oorgedra is, moet, indien hy of sy 'n agent met betrekking tot so 'n reg aanstel, die registrateur binne die voorgeskrewe tydperk op die voorgeskrewe wyse in kennis stel van die naam en adres van die agent.

[Sub-a. (2) vervang by a. 18 (b) van Wet 15 van 1996.]

(3) Die registrateur moet met betrekking tot 'n oordrag van 'n planttelersreg waarvan hy ingevolge hierdie artikel in kennis gestel is, die besonderhede wat voorgeskryf is by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

30. Staat deur planttelersreg gebind. --

(1) Behoudens die bepalings van subartikel (2) bind 'n planttelersreg die Staat in alle opsigte op dieselfde wyse as wat dit 'n ander persoon bind.

(2) Geen gelde ingevolge hierdie Wet betaalbaar, is deur die Staat betaalbaar nie.

31. Staat kan planttelersreg oorneem. --

(1) (a) Die Minister kan na oorlegpleging met die Minister van Finansies by kennisgewing in die Staatskoerant die planttelersreg in 'n variëteit van 'n soort plant ten behoewe van die Staat oorneem vanaf 'n datum deur hom of haar bepaal en in dieselfde of 'n latere kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer.

[Par. (a) vervang by a. 19 van Wet 5 van 1980 en by a. 19 van Wet 15 van 1996.]

(b) Vanaf die datum ingevolge paragraaf (a) bepaal, word alle regte en verpligtinge verbonde aan bedoelde planttelersreg geag op die Staat oorgedra te wees, en sodanige regte vestig vanaf daardie datum in die Minister ten behoewe van die Staat.

(2) Die Minister betaal aan die persoon wat onmiddellik voor die in subartikel (1) (a) bedoelde datum die houer van die betrokke planttelersreg was, die vergoeding waarop ooreengekom word of, by ontstentenis van ooreenkoms, wat by arbitrasie vasgestel word.

32. Wysiging van benaming. --

(1) Die registrateur kan die benaming goedgekeur ten opsigte van 'n variëteit wysig of aanvul-

(a) indien deur die hof gelas op aansoek van iemand wat regtens 'n voorkeuraanspraak op die gebruik van die betrokke aanwysing het;

(b) op aansoek van die houer van 'n planttelersreg in daardie variëteit;

(c) indien die inligting wat in die aansoek aan die registrateur voorgelê is vir die goedkeuring van, of in verband met, die betrokke benaming, verkeerd was en die registrateur van oordeel is dat so 'n benaming nie goedgekeur sou gewees het indien hy geweet het dat bedoelde inligting verkeerd was nie; of

(d) indien inligting aan die lig kom wat, indien vroeër bekend, na die oordeel van die registrateur die verwerping van bedoelde benaming tot gevolg sou gehad het.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 20 (a) van Wet 15 van 1996.]

(2) 'n In subartikel (1) (b) bedoelde aansoek word by die registrateur gedoen op die voorgeskrewe wyse en gaan vergesel van die voorgeskrewe aansoekgeld.

[Sub-a. (2) vervang by a. 20 (b) van Wet 15 van 1996.]

(3) Indien 'n wysiging of aanvulling op 'n in paragraaf (c) of (d) van subartikel (1) bedoelde grond nodig word, stel die registrateur die houer van die betrokke planttelersreg skriftelik daarvan in kennis en verstrek die registrateur die gronde waarop die wysiging of aanvulling nodig geag word, en so 'n houer lê binne 60 dae vanaf die datum van die kennisgewing aan hom, voorstelle vir 'n wysiging of aanvulling voor. 

(4) Indien die registrateur beoog om 'n wysiging of aanvulling van 'n benaming ingevolge subartikel (1) (b) of (3) goed te keur, moet hy die besonderhede betreffende die beoogde wysiging of aanvulling wat voorgeskryf is, by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

(5) Enigiemand kan binne die voorgeskrewe tyd, by betaling van die voorgeskrewe gelde en op die voorgeskrewe wyse 'n beswaar teen die toestaan van so 'n wysiging of aanvulling indien.

[Sub-a. (5) vervang by a. 20 van Wet 5 van 1980.]

(6) Die registrateur kan, na oorweging van enige beswaar ingevolge subartikel (5) ingedien, die voorgestelde wysiging of aanvulling goedkeur, en moet die voorgeskrewe besonderhede betreffende 'n wysiging of aanvulling aldus goedgekeur, by kennisgewing in die Staatskoerant publiseer.

(7) Die registrateur publiseer onverwyld by kennisgewing in die Staatskoerant die voorgeskrewe besonderhede betreffende 'n wysiging of aanvulling ingevolge subartikel (1) (a) gelas.

33. Beëindiging van planttelersreg. --

(1) 'n Planttelersreg word beëindig by verstryking van die tersaaklike termyn in artikel 21 beoog.

[Sub-a. (1) vervang by a. 21 van Wet 15 van 1996.]

(2) Die registrateur kan 'n planttelersreg beëindig voor die verstryking van die planttelersreg indien-

(a) enige inligting aan hom of haar voorgelê in die aansoek om so 'n reg of in verband met so 'n aansoek verkeerd was en so 'n reg nie toegestaan sou gewees het indien hy of sy geweet het dat die inligting verkeerd was nie;

(b) inligting aan die lig gekom het wat, indien vroeër bekend, tot gevolg sou gehad het dat die planttelersreg geweier word;

(c) voorrang ingevolge artikel 8 verleen word aan 'n ander aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg in dieselfde variëteit;

(d) die houer van die planttelersreg weier of in gebreke gebly het of nie in staat is nie om die registrateur te voorsien van voortplantingsmateriaal van die betrokke variëteit wat voldoen aan die voorskrifte van paragraaf (a) van artikel 24 (1);

(e) die houer van die planttelersreg in gebreke gebly het om te voldoen aan 'n versoek ingevolge paragraaf (b) van artikel 24 (1), of hy of sy die registrateur verhinder het om 'n inspeksie in artikel 24 (2) bedoel te onderneem;

(f) die houer van die planttelersreg weier of in gebreke gebly het of nie in staat is nie om 'n voorstel vir 'n wysiging of aanvulling van 'n benaming voor te lê nadat hy of sy ingevolge artikel 32 (3) versoek is om dit te doen;

(g) die jaargeld ingevolge artikel 22 nie binne die tydperk in daardie artikel bedoel, betaal is nie;

(h) die planttelersreg toegestaan is aan 'n persoon wat nie daarop geregtig is nie, behalwe as dit aan die persoon wat daarop geregtig is, oorgedra word; of

(i) die houer van die planttelersreg deur 'n hofbevel gelas word om die planttelersreg te beëindig.

[Sub-a. (2) vervang by a. 21 van Wet 15 van 1996.]

(3) Die registrateur stel die houer van die betrokke planttelersreg en die houer van 'n lisensie uitgereik ingevolge artikel 27 of met betrekking waartoe 'n mededeling kragtens artikel 25 (3) gedoen is, skriftelik in kennis van sy voorneme om 'n planttelersreg ingevolge subartikel (2) te beëindig, en van die gronde daarvoor.

(4) 'n In subartikel (3) bedoelde houer kan binne die voorgeskrewe tyd, op die voorgeskrewe wyse en by betaling van die voorgeskrewe geld 'n beswaar teen die voorgenome beëindiging van 'n planttelersreg indien.

[Sub-a. (4) vervang by a. 21 van Wet 5 van 1980.]

5) Die bepalings van artikels 18 (1), (2), (3), (4), (5) en (6) is mutatis mutandis van toepassing met betrekking tot so 'n beswaar.

[Sub-a. (5) vervang by a. 21 van Wet 5 van 1980.]

(6) Die registrateur publiseer die beëindiging ingevolge subartikel (1) of (2) van 'n planttelersreg by kennisgewing in die Staatskoerant.

(7) 'n Sertifikaat van registrasie ingevolge paragraaf (a) van artikel 20 (2) uitgereik, word binne die voorgeskrewe tydperk deur die houer daarvan aan die registrateur terugbesorg wanneer die betrokke planttelersreg ingevolge hierdie artikel eindig of beëindig word.

34. Vrywillige afstand van planttelersreg. --

(1) Die houer van 'n planttelersreg kan die registrateur te eniger tyd op die voorgeskrewe wyse en by betaling van die voorgeskrewe geld in kennis stel dat hy afstand doen van so 'n reg, en so 'n houer voorsien die registrateur van bewys dat 'n afskrif van so 'n kennisgewing aan elke persoon wat met betrekking tot daardie reg gelisensieer is en aan elke ander belanghebbende persoon beteken is.

(2) Die registrateur publiseer by kennisgewing in die Staatskoerant die besonderhede betreffende die afstand wat voorgeskryf is.

35. Merk van etikette of houers. --

(1) Indien voortplantingsmateriaal van 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n planttelersreg toegestaan is, vir doeleindes van voortplanting verkoop word, moet die benaming van daardie variëteit duidelik en leesbaar verskyn op 'n etiket daaraan geheg, of, indien dit verpak word, op die houer.

(2) Indien 'n merk tesame met die benaming van die betrokke variëteit gebruik word, moet sodanige merk en benaming duidelik onderskeibaar wees.

[Sub-a. (2) bygevoeg by a. 22 van Wet 5 van 1980.]

36. Verbetering van foute. --

(1) Die registrateur kan magtiging verleen vir-

(a) die verbetering van 'n klerklike fout of vertaalfout wat voorkom in 'n planttelersreg, die aansoek om so 'n reg, 'n dokument ingevolge so 'n aansoek ingedien of die register;

(b) die wysiging van enige dokument vir die wysiging waarvan in hierdie Wet geen uitdruklike voorsiening gemaak is nie;

(c) die kondonasie of verbetering van 'n onreëlmatigheid in die prosedure in verrigtinge voor hom, indien so 'n kondonasie of verbetering nie vir iemand se belange nadelig is nie.

(2) Die registrateur kan die bevoegdheid ingevolge subartikel (1) mero motu of op skriftelike versoek uitoefen.

(3) Waar die registrateur voornemens is om sy bevoegdheid ingevolge subartikel (1) mero motu uit te oefen, gee hy kennis van sy voorneme aan die houer van die planttelersreg of die applikant om so 'n reg, na gelang van die geval, en aan enige ander persoon wat na sy oordeel belang by die aangeleentheid het, en gee hy aan so 'n houer, applikant of persoon die geleentheid om aangehoor te word voordat hy sy bevoegdheid uitoefen.

37. Diskresionêre bevoegdheid van registrateur. --

(1) (a) Waar 'n diskresionêre bevoegdheid ingevolge hierdie Wet aan die registrateur verleen word, oefen hy nie daardie bevoegdheid ten nadele van 'n applikant of 'n beswaarmaker of 'n ander persoon wat volgens die register blyk 'n belanghebbende party te wees, uit nie sonder dat hy aan so 'n applikant, beswaarmaker of ander belanghebbende persoon 'n geleentheid gegee het om binne die voorgeskrewe tyd of, indien 'n tyd nie voorgeskryf is nie, binne die redelike tyd wat die registrateur bepaal, aangehoor te word.

(b) 'n In paragraaf (a) bedoelde applikant, beswaarmaker of ander belanghebbende persoon kan afstand doen van die reg om aangehoor te word.

(2) Waar 'n tydperk ingevolge hierdie Wet vasgestel is waarbinne 'n handeling verrig of enigiets gedoen moet word, kan die registrateur, behalwe waar dit uitdruklik anders bepaal word, die tydperk voor of na die verstryking daarvan verleng.

38. Vormgebrek maak dokumente nie ongeldig nie. --

'n Vormgebrek in 'n dokument wat ingevolge 'n wet op 'n besondere wyse verly moet word, of in 'n kennisgewing kragtens hierdie Wet uitgereik, maak nie 'n administratiewe handeling wat verrig word ten opsigte van die saak waarop die dokument of kennisgewing betrekking het ongeldig nie, en is nie 'n grond vir eksepsie teen enige regsprosedure wat ten opsigte van so 'n saak ingestel word nie, indien die vereistes en betekenis daarvan wesenlik en verstaanbaar uiteengesit is.

39. Bewaring en bewys van dokumente. --

(1) Alle dokumente betreffende planttelersregte by die registrateur ingedien en elke aansoek om sodanige regte word, behoudens die bepalings van subartikel (3), vir die voorgeskrewe tydperk bewaar.

(2) 'n In subartikel (1) bedoelde dokument wat na die oordeel van die registrateur ter insae van die publiek kan lê, is by betaling van die voorgeskrewe gelde gedurende kantoorure vir ondersoek ter insae by die kantoor van die registrateur, en afskrifte daarvan word op versoek en by betaling van die voorgeskrewe gelde aan enigiemand verstrek.

(3) Waar 'n aansoek om die toestaan van 'n planttelersreg teruggetrek is, moet die registrateur al die stukke in verband met die aansoek ingedien, aan die applikant terugstuur by die adres in die aansoek aangegee of, as dit nie doenlik is nie, na verstryking van die voorgeskrewe tydperk vernietig.

(4) Die bepalings van artikel 5 (3) is mutatis mutandis van toepassing met betrekking tot alle dokumente by die registrateur ingedien.

40. Geheimhouding. --

(1) Niemand mag, behalwe-

(a) vir sover dit vir die behoorlike toepassing van die bepalings van hierdie Wet nodig is; of

(b) vir doeleindes van geregtelike verrigtinge kragtens hierdie Wet of enige ander wet; of 

(c) wanneer deur 'n hof of ingevolge 'n wet daartoe gelas; of

(d) wanneer deur die Minister daartoe gemagtig,

enige inligting bekend maak nie wat deur hom of haar verkry is in die uitoefening van sy of haar bevoegdhede of die verrigting van sy of haar pligte ingevolge hierdie Wet.

(2) Ondanks die bepalings van subartikel (1) kan die registrateur aan die houer van 'n planttelersreg of aan iemand aan wie 'n lisensie toegestaan is kragtens artikel 25, inligting verstrek wat hy of sy verkry het aangaande 'n handeling wat 'n skending van die betrokke planttelersreg uitmaak.

[A. 40 gewysig by a. 23 van Wet 5 van 1980 en vervang by a. 5 van Wet 38 van 1983 en by a. 22 van Wet 15 van 1996.]

41. . . . . . .

[A. 41 herroep by a. 24 van Wet 5 van 1980.]

42. Appèl teen beslissing van of stappe deur registrateur. --

(1) Iemand wat veronreg voel deur 'n beslissing van of stappe gedoen deur die registrateur ingevolge hierdie Wet, kan binne die tydperk en op die wyse wat voorgeskryf is en by betaling van die voorgeskrewe gelde, by die Minister appèl teen die betrokke beslissing of stappe aanteken.

(2) (a) Die Minister verwys die appèl vir ondersoek en beslissing na 'n raad waarvan die lede deur die Minister aangestel word en wat bestaan uit-

(i) een persoon wat weens sy regskennis as voorsitter aangewys word;

(ii) twee persone wat na die oordeel van die Minister deskundige kennis dra van die onderwerp van die appèl.

(b) Iemand ingevolge subparagraaf (ii) van paragraaf (a) aangestel, is onbevoeg om lid van die raad te wees indien hy 'n regstreekse of onregstreekse persoonlike belang by die uitslag van die appèl het.

(3) (a) 'n Appèl kragtens subartikel (1) word aangehoor op die datum, tyd en plek deur die voorsitter bepaal en hy of sy stel die persoon wat appèl aanteken en enige ander party wat 'n belang het by die appèl skriftelik daarvan in kennis.

(b) Die voorsitter kan vir die doeleindes van die aanhoor van 'n appèl-

(i) enigiemand wat wesenlike inligting kan verstrek aangaande die onderwerp van die verrigtinge of wat 'n stuk wat betrekking het op die onderwerp van die verrigtinge in sy of haar besit of bewaring of onder sy of haar beheer het, dagvaar om op 'n tyd en plek in die dagvaarding vermeld voor hom of haar te verskyn om ondervra te word of om daardie stuk voor te lê, en die registrateur kan 'n stuk wat aldus voorgelê is vir ondersoek behou;

(ii) enigiemand wat by die verrigtinge as 'n getuie opgeroep word, 'n eed oplê of 'n bevestiging van hom of haar aanneem; en

(iii) enigiemand wat by die verrigtinge aanwesig is, as 'n getuie roep en hom of haar ondervra en hom of haar aansê om enige stuk in sy of haar besit of bewaring of onder sy of haar beheer voor te lê.

(c) Die prosedure by die aanhoor van 'n appèl is soos voorgeskryf.

(d) Die persoon wat appèl aanteken en die registrateur is geregtig om by 'n appèl verteenwoordig te word deur 'n advokaat of 'n prokureur of deur 'n patentagent wat ingevolge artikel 20 van die Wet op Patente, 1978 (Wet 57 van 1978), geregistreer is.

[Sub-a. (3) vervang by a. 23 van Wet 15 van 1996.]

(4) Indien 'n persoon ingevolge subartikel (2) (a) aangestel-

(a) te sterwe kom tydens die ondersoek van die appèl of so kort voor die aanvang van die ondersoek dat die vakature nie betyds gevul kan word nie;

(b) nie in staat is om op te tree nie en 'n ander persoon nie betyds aangestel kan word nie; of

(c) nie in staat is, nadat die ondersoek begin het, om daarmee voort te gaan nie,

kan die partye ooreenkom dat die ondersoek deur die oorblywende lede voortgesit word, in welke geval, waar die lid wat oorlede is of onbekwaam geword het die voorsitter was of is, die Minister een van die oorblywende lede aanwys om as voorsitter op te tree.

(5) (a) Indien die partye nie ingevolge subartikel (4) ooreenkom nie, word die ondersoek verdaag sodat die Minister, ooreenkomstig die voorskrifte van subartikel (2) (a), 'n lid kan aanstel in die plek van die lid wat oorlede is of onbekwaam geword het.

(b) Waar 'n aanstelling ingevolge paragraaf (a) gemaak word, word die ondersoek, indien die partye aldus ooreenkom, voortgesit vanaf die stadium waarop die ondersoek onderbreek is deur die dood of onbekwaamheid van 'n lid, of word dit, indien die partye nie aldus ooreenkom nie, de novo begin.

(6) Die raad kan na ondersoek van die appèl-

(a) die betrokke beslissing of stappe van die registrateur bevestig, tersyde stel of verander;

(b) die registrateur gelas om uitvoering te gee aan die raad se beslissing in verband daarmee.

(7) (a) Die beslissing van die raad moet op skrif wees, en 'n afskrif daarvan word aan die registrateur, die appellant en enige ander party verstrek.

(b) . . . . . .

[Par. (b) geskrap by a. 59 van Wet 88 van 1996.]

(8) Indien die raad 'n beslissing van of stappe gedoen deur die registrateur tersyde stel, word die voorgeskrewe gelde deur die appellant ten opsigte van die betrokke appèl betaal, aan hom terugbetaal, of, indien die raad sodanige beslissing of stappe wysig, kan hy na goeddunke gelas dat die geheel van sodanige gelde of 'n gedeelte daarvan aan die appellant terugbetaal word.

43. . . . . . .

[A. 43 herroep by a. 24 van Wet 15 van 1996.]

44. Regulasies. --

(1) Die Minister kan regulasies uitvaardig-

(a) wat 'n sertifikaat of ander dokument of vorm voorskryf wat vir die doeleindes van hierdie Wet uitgereik of gebruik moet word;

(b) wat die gelde voorskryf wat betaalbaar is ten opsigte van 'n aansoek, aangeleentheid of dokument;

(c) wat die skaal van die besoldiging voorskryf wat betaal moet word aan 'n persoon wat ingevolge artikel 18 (2) aangestel word;

(d) wat die skaal van die besoldiging voorskryf wat betaal moet word aan 'n lid van 'n raad wat ingevolge artikel 42 (2) aangestel word;

(e) wat die inligting en fasiliteite wat deur 'n applikant om 'n planttelersreg aan die registrateur voorsien moet word, en die voortplantingsmateriaal wat ten tyde van 'n aansoek en daarna voorsien moet word, voorskryf;

(f) wat die toetse, proewe, ondersoeke en ander stappe wat deur 'n applikant of die registrateur gedoen moet word voordat 'n planttelersreg toegestaan kan word, en die tyd waarin dit gedoen moet word, voorskryf;

(g) wat die aantekeninge betreffende voortplantingsmateriaal vir verkoop, vermeerdering of uitvoer wat gehou moet word deur iemand wat sodanige materiaal in sy besit of onder sy beheer het, die vorm waarin en die wyse waarop dit gehou moet word, en hoe en aan wie dit ter insae beskikbaar moet wees, voorskryf;

(h) betreffende 'n aangeleentheid wat ingevolge hierdie Wet voorgeskryf moet of kan word; en

(i) betreffende oor die algemeen enige aangeleentheid wat hy nodig of dienstig ag om voor te skryf ten einde die oogmerke en doeleindes van hierdie Wet beter te verwesenlik, sonder dat die algemeenheid van die bevoegdhede wat deur hierdie paragraaf verleen word, deur die bepalings van die voorgaande paragrawe beperk word.

(2) Verskillende regulasies kan ingevolge hierdie artikel uitgevaardig word ten opsigte van verskillende kategorieë of groepe plante of ten opsigte van verskillende soorte plante of in die ander opsigte wat die Minister bepaal.

(3) Die regulasies kan ten opsigte van enige oortreding daarvan of versuim om daaraan te voldoen 'n straf voorskryf-

(a) in die geval van 'n eerste skuldigbevinding, van 'n boete of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens ses maande; en

(b) in die geval van 'n tweede of daaropvolgende skuldigbevinding, van 'n boete of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens een jaar.

[Sub-a. (3) vervang by a. 25 van Wet 15 van 1996.]

(4) 'n Regulasie wat gelde voorskryf, word slegs na oorleg met die Minister van Finansies uitgevaardig.

45. Misdrywe en strawwe. --

(1) Iemand-

(a) wat 'n valse inskrywing in die register maak of laat maak, of wat 'n geskrif maak of laat maak wat valslik voorgee 'n afskrif te wees van 'n inskrywing in die register of van 'n dokument by die registrateur ingedien, of wat so 'n inskrywing of so 'n afskrif as getuienis voorlê of aanbied of laat voorlê of aanbied;

(b) wat 'n valse verklaring of voorstelling maak, of wat vals inligting verstrek, met die wete dat dit vals is;

[Par. (b) vervang by a. 26 (a) van Wet 15 van 1996.]

(c) wat die registrateur, 'n beampte of 'n persoon bedoel in artikel 3 (3) (a) by die uitoefening van sy of haar bevoegdhede of die verrigtinge van sy of haar pligte ingevolge hierdie Wet belemmer of verhinder;

[Par. (c) vervang by a. 26 (a) van Wet 15 van 1996.]

(d) wat, nadat hy behoorlik gedagvaar is om by enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet te verskyn, sonder wettige rede versuim om aldus te verskyn;

(e) wat, nadat hy as 'n getuie by enige verrigtinge ingevolge hierdie Wet verskyn het, sonder wettige rede weier om beëdig te word of 'n bevestiging te doen of om 'n dokument voor te lê of 'n vraag te beantwoord wat hy wettiglik aangesê kan word om voor te lê of te beantwoord;

(f) wat valslik voorgee dat voortplantingsmateriaal deur hom verkoop vir doeleindes van voortplanting of vermeerdering, voortplantingsmateriaal is van 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n planttelersreg ingevolge hierdie Wet toegestaan is, of dat die voortplantingsmateriaal van so 'n variëteit afkomstig is;

(g) wat, by die verkoop van voortplantingsmateriaal vir doeleindes van voortplanting of vermeerdering, 'n ander benaming daarvoor gebruik as die benaming ingevolge hierdie Wet vir die betrokke variëteit geregistreer of die geregistreerde benaming van 'n ander variëteit van dieselfde soort plant gebruik of 'n benaming gebruik wat soveel met 'n geregistreerde benaming ooreenstem dat dit misleidend is;

(h) wat versuim om 'n onderneming bedoel in paragraaf (b) van artikel 14 (2) na te kom of 'n opdrag bedoel in artikel 24A (1) (b) uit te voer;

[Par. (h) vervang by a. 26 (b) van Wet 15 van 1996.]

(i) wat, behalwe in die in artikel 40 bedoelde omstandighede, inligting openbaar wat deur hom in die loop van sy pligte of die verrigting van sy werksaamhede ingevolge hierdie Wet verkry is,

is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar-

(i) in die geval van 'n eerste skuldigbevinding aan 'n misdryf in paragraaf (a) of (b) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar;

[Par. (i) vervang by a. 26 (c) van Wet 15 van 1996.]

(ii) in die geval van 'n tweede of daaropvolgende skuldigbevinding aan 'n misdryf in paragraaf (a) of (b) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens vier jaar; en

[Par. (ii) vervang by a. 26 (c) van Wet 15 van 1996.]

(iii) in die geval van 'n eerste skuldigbevinding aan 'n misdryf in paragraaf (c), (d), (e), (f), (g), (h) of (i) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens een jaar; of

[Par. (iii) bygevoeg by a. 26 (d) van Wet 15 van 1996.]

(iv) in die geval van 'n tweede of daaropvolgende skuldigbevinding aan 'n misdryf in paragraaf (c), (d), (e), (f), (g), (h), of (i) bedoel, met 'n boete of met gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar.

[Par. (iv) bygevoeg by a. 26 (d) van Wet 15 van 1996.]

(2) Ondanks andersluidende wetsbepalings besit 'n landdroshof regsbevoegdheid om enige straf wat hierdie Wet voorskryf, op te lê.

46. Verbod op handeldryf deur beamptes. --

(1) Die registrateur, of 'n beampte wat ingevolge die delegasie of onder die beheer of lasgewing van die registrateur die bevoegdhede uitoefen en die pligte verrig wat kragtens hierdie Wet aan die registrateur toegewys of opgedra is, is aan 'n misdryf skuldig en by skuldigbevinding strafbaar met 'n boete of met

gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens een jaar-

(a) indien hy 'n planttelersreg of 'n belang daarin koop, verkoop, verkry of daarin handel dryf;

(b) indien hy voortplantingsmateriaal van 'n variëteit ten opsigte waarvan 'n planttelersreg toegestaan is of om aansoek gedoen is, verkry, anders as in die loop van sy pligte, of verkoop.

[Sub-a. (1) gewysig by a. 27 (a) van Wet 15 van 1996.]

(2) 'n Aankoop, verkoop, verkryging of oordrag van 'n planttelersreg deur of aan die registrateur of so 'n beampte is nietig.

(3) Voortplantingsmateriaal deur die registrateur of so 'n beampte verkry, word aan die Staat verbeur.

(4) Geen bepaling van hierdie artikel is op die persoon wat 'n variëteit van 'n plant geteel, of dit ontdek en ontwikkel het of op verkryging deur vererwing van toepassing nie.

[Sub-a. (4) vervang by a. 27 (b) van Wet 15 van 1996.]

47. Vergoeding ten opsigte van skending van planttelersreg. --

(1) Die houer van 'n planttelersreg kan by bewys van 'n skending van daardie reg en sonder bewys van skade wat uit so 'n skending mag ontstaan, by geding in 'n bevoegde hof vergoeding ten opsigte van so 'n skending ten bedrae van hoogstens R10 000 verhaal op die persoon wat die planttelersreg geskend het.

[Sub-a. (1) vervang by a. 28 (a) van Wet 15 van 1996.]

(2) 'n Geding ingevolge subartikel (1) is ter beskikking van die houer in die plek van enige aksie om skadevergoeding in enige bedrag wat uit die betrokke skending mag ontstaan.

(3) 'n In subartikel (1) of (2) bedoelde geding word nie ingestel nie terwyl die betrokke planttelersreg of variëteit die onderwerp is van-

(a) 'n beswaar wat ingevolge hierdie Wet deur die registrateur bepaal moet word; of

(b) 'n appèl wat ingevolge artikel 42 deur die raad beslis moet word.

(4) Die houer van 'n planttelersreg of iemand aan wie 'n lisensie toegestaan is kragtens artikel 25 of 27, kan 'n eis instel vir skade gely deur sodanige houer of sodanige persoon weens die skending van daardie planttelersreg.

[Sub-a. (4) bygevoeg by a. 28 (b) van Wet 15 van 1996.]

(5) In die geval van 'n geding bedoel in subartikel (4) ingestel deur iemand aan wie 'n lisensie toegestaan is kragtens artikel 25 of 27, word die houer van die betrokke planttelersreg as 'n party tot daardie geding gevoeg.

[Sub-a. (5) bygevoeg by a. 28 (b) van Wet 15 van 1996.]

(6) Benewens enige ander remedie, mag 'n bevoegde hof, in 'n geding weens die skending van 'n planttelersreg, 'n bevel maak ten opsigte van die bewaring, oorgawe of beskikking van enige boek, stuk, plant, voortplantingsmateriaal, produk, stof of ander voorwerp.

[Sub-a. (6) bygevoeg by a. 28 (b) van Wet 15 van 1996.]

48. Oordrag van bevoegdhede en pligte deur Minister. --

Die Minister kan 'n bevoegdheid of plig kragtens hierdie Wet aan hom verleen of opgedra, uitgesonderd 'n bevoegdheid in artikel 31 of 44 bedoel, aan 'n beampte van die departement in die algemeen of in 'n bepaalde geval of met betrekking tot bepaalde goed oordra.

49. Beperking van aanspreeklikheid. --

Geen vergoeding is deur die Staat, die Minister, die registrateur of 'n beampte betaalbaar ten opsigte van 'n handeling wat te goeder trou kragtens hierdie Wet verrig is nie.

50. . . . . . .

[A. 50 herroep by a. 29 van Wet 15 van 1996.]

51. Planttelersregte verleen ingevolge Wet 22 van 1964. --

(1) 'n Finale of voorlopige planttelersreg ingevolge die bepalings van die Wet op Planttelersregte, 1964, toegestaan voor die inwerkingtreding van hierdie Wet, word geag 'n planttelersreg te wees kragtens hierdie Wet toegestaan, en elke bepaling van hierdie Wet, behalwe die bepalings van artikel 22, is mutatis mutandis van toepassing met betrekking tot so 'n planttelersreg.

(2) Met 'n aansoek om 'n planttelersreg wat voor die inwerkingtreding van hierdie Wet deur die registrateur ontvang is maar ten opsigte waarvan 'n finale planttelersreg nie ingevolge artikel 15 van die Wet op Planttelersregte, 1964, toegestaan is voor bedoelde inwerkingtreding nie, word in alle opsigte gehandel asof hierdie Wet op die datum van ontvangs van so 'n aansoek in werking getree het.

52. Herroeping van wette. --

Die Wet op Planttelersregte, 1964 (Wet 22 van 1964), en die Wysigingswet op Planttelersregte, 1969 (Wet 72 van 1969), word hierby herroep.

53. Kort titel en datum van inwerkingtreding. --

Hierdie Wet heet die Wet op Planttelersregte, 1976, en tree in werking op 'n datum wat die Staatspresident by proklamasie in die Staatskoerant bepaal